DIE WEERKLANK VAN MARTIN LUTHER

 

“As jong vroue pastor word ek daagliks uitgedaag met die integrering van ons Lutherse teologie in 'n taal wat nie net vir ons gemeentes verstaanbaar is nie ,maar ook verstaan moet word in ons bepaalde omstandighede.

 

Baie jongmense verlaat ons gevestigde kerke vir charismatiese denominasies. Die rede hiervoor is dikwels omdat die kerk se dogma in 'n taal verduidelik word wat nie op die vlak van die jongmense is nie en nie die bepaalde sosiale omstandighede van die tyd aanspreek nie.

 

Die meeste van die teologiese materiaal is in Engels beskikbaar en is verder uiters akademies. Daarom is 'n perspektief in Afrikaans wat ons lidmate se kontekstuele omstandighede aanspreek dringend noodsaaklik.

 

Die bydrae van mnr. Groenewald is besonder betekenisvol en nodig vir die lewe en werk van die Evangelies Lutherse kerk. Dit spreek tot die hart van Luther se oortuiging as hy die Bybel in die taal van sy volksgenote vertaal. Daardeur kon hulle die Bybel nou self lees en verstaan.

 

Mnr. Groenewald het Luther se teologie nou in 'n gemeenskaplike relevante en duidelike weergawe weergegee, alhoewel hy geput het uit die Duitse werk van Paul Althaus. Desnieteenstaande is mnr.Groenewald se stem deurgaans duidelik hoorbaar in die navorsing en analise.

 

Die bydrae in Afrikaans gee ons gemeentes die geleentheid om die juistheid , diepte en hart van Lutherse teologie te verstaan. Die verdere betekenis van die werk is dat dit lidmate die toegang bied tot die teologie in die jaar van die 500-jarige herdenking van Lutheranisme.

 

Dit spreek duidelik tot die tema van hervorming wat voortdurende vernuwing, oplewing en toepaslikheid insluit.

 

Hierdie boek sal baie beslis 'n waardevolle hulpmiddel wees vir christelike opvoeders , want dit versterk die basis van ons geloof.

 

Ek is werklik geraak en ek waardeer die grondige teologiese perspektief van die werk. Dit was dus 'n voorreg en plesier om hierdie werk van mnr. Groenewald te kon lees en ek is oortuig dat dit vele lewens van Lutherane sal raak , wat glo dat ons deur geloof alleen geregverdig word.”

 

- Pastor Alison Harwood , St. Johannes Parogie (Meestersgraad in Teologie. Universiteit van Kwa-Zulu Natal Pietermaritzburg kampus.)

 

 

 

“Dit verg beslis nie die kennis van ‘n uitgelese teoloog om te weet dat die teologie van Martin Luther soos in sy verskeie werke gepubliseer, van ‘n uiters diepgaande aard is en met die grootste vaardigheid aan sy lesers oorgedra is nie. Om dus die teologie van ‘n Luther na te slaan en met begrip te lees verg seer sekerlik al klaar ‘n baie deeglike mate van teologiese agtergrond. Die aantekeninge bied ‘n besondere geleentheid aan die gewone leserspubliek waarvolgens die teologie van Luther op klinkklare, dog eenvoudige wyse, gelees en nageslaan kan word.

Die kernpunt van Luther se teologie naamlik regverdigmaking van die sondaar voor God, deur genade en op grond van geloof, en nie werke nie, word op heldere wyse opgesom. Die hele uiteensetting van die problematiek rondom die “geregverdigde sondaar” (“regverdig en ook sondaar”) werp besondere lig op ‘n geloofsaak wat vir baie Christene, sowel as kerkgenootskappe nog altyd ‘n strydpunt bly.

Die gedeelte oor “Vrae aan Luther” werp ‘n besondere ligpunt aan gelowiges wat te midde van die liefdevolle genade van God wat vryelik aan die gelowige geskenk word, nog altyd daarop uit is om die verborgenhede van die Wil van God, deur middel van intellektuele redevoering, te wil naspeur.

Baie ander belangrike aspekte van Luther se teologie wat in hierdie aantekene aangeraak word, onder andere: Die volk van God en Sy Kerk, die Wet en die Evangelie, Jesus Christus as Versoener en Verlosser; Die Twee Nature-Christologie, God-mens en Mens-God verhoudinge, is nie net almal onderwerpe wat steeds onder die vergrootglas van teologiese diskoerse geplaas word nie, maar dit is onderwerpe en vraagstukke wat voortdurend vir ons algemene lidmate problematiese geloofskwessies bly. Vir hulle bly baie van hierdie knelpunte ook ‘n geloofstryd.

Met my eie beperktheid aan teologiese uitgelesenheid, vind ek hierdie aantekeninge teologies baie goed onderlegd, streng Bybels gefundeer en met die deeglikheid van ‘n diepe geloofsoortuiging oorgedra en uiteengesit. Dit is my oorwoë mening dat hierdie aantekeninge met groot seën en geestelike verryking deur beide pastors en ons lidmate gebruik sal kan word.”

 

View our In-House catalogues here: